top of page
Transparent - Logo Landscape_edited.png

ONS STORIE

Dorfa se storie het klein begin – met twee harte vol drome, 'n bodemlose put vol genade, 'n handjievol skape en 'n diep begeerte om iets van ons eie te bou.

Ons is Aiden en Leyla, twee jong verliefdes wat op 'n familieplaas genaamd Geduld, net buite Parys in die Vrystaat, begin droom het van 'n toekoms wat ons saam wou bou.

Nooit in ons wildste drome sou ons kon dink dat dit wat so klein begin het, sou groei tot iets veel groter as wat ons ooit kon voorstel nie.

 

Op 26 Maart 2025 het ons ons eerste ses dragtige ooie gekoop. Vandag lag ons daaroor, maar toe die eerste lam daardie aand gebore is, het ons nie die vaagste benul gehad wat ons doen nie.

Wat gevolg het, was 'n reis van leer, groei, harde werk, geloof en baie genade.

Skaars 'n jaar later staan ons een dag in die veld en kyk uit oor dit wat besig was om voor ons oë te ontvou. Voor ons staan 'n kudde van ongeveer 150 skape, 'n span vol helpende hande, toerusting, implemente en geleenthede waarvan ons nooit sou kon droom nie.

Dit was in daardie oomblik dat die besef ons diep getref het: Hierdie kan nie aan ons toegeskryf word nie.

Deurentyd het ons God se hand in ons reis gesien. In elke deur wat oopgegaan het. In elke geleentheid wat oor ons pad gekom het. In elke seën wat groter was as ons eie vermoë.

Daarom sê ons met oortuiging: Gegrond in Genade

Want sonder Sy genade sou daar geen Dorfa gewees het nie.

"Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang." – Johannes 1:16

"Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen."  – Koos du Plessis

DIE DORFA-HART

'n Boom word geken aan die vrugte wat hy dra, maar sy ware krag lê dieper as wat die oog kan sien.

Dit lê in sy wortels, die grond waarin hy gevestig is en die groei wat oor tyd plaasvind voordat die eerste vrug ooit verskyn.

So sien ons ook vir Dorfa.

Ons Wortels is Gegrond in Genade

God se genade is waar alles begin het en die rede waarom ons vandag kan terugkyk op 'n pad van groei, seën en geleenthede wat groter was as wat ons ooit kon droom.

Wanneer ons terugkyk op ons reis, besef ons telkens dat ons sukses nie bloot die gevolg van ons eie vermoëns is nie. Ons het God se hand in elke seisoen van ons boerdery ervaar, en daarom bly ons geanker in dankbaarheid vir alles wat Hy aan ons toevertrou het.​

"Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang."
Johannes 1:16

Ons Groei word Gedryf deur Passie

Uit sterk wortels groei 'n sterk boom.

Ons groei is moontlik gemaak deur genade, maar dit word gedryf deur passie. Die passie vir boerdery, die liefde vir ons diere en die dankbaarheid vir die geleentheid om elke dag te doen waarvoor ons lief is, vorm die hart van Dorfa.

Hierdie passie leef in elke lam wat gebore word, elke uitdaging wat oorkom word en elke doelwit waarna ons streef.

Boerdery gaan nie sonder bloed, sweet en trane nie. Tog vind ons ons grootste vrede en rus vir ons siel wanneer ons in die veld kan sit, op die grond waarvan ons gemaak is, met ons oë op die horison en ons drome veilig by Pappa Jesus se voete.

Dit is daar waar ons weer herinner word waarom ons doen wat ons doen. Dit is daar waar ons die voorreg van hierdie lewe en hierdie roeping die diepste beleef.

 

"Dat elke mens ook maar kan eet en drink en die goeie geniet van al sy swoeg – dit is 'n gawe van God."
Prediker 3:13

Ons Vrugte word Gevorm deur Kwaliteit

Die vrug van 'n boom weerspieël alles wat deur die jare onder die oppervlak gebeur het - Vir ons is daardie vrug trots en kwaliteit.

Trots in die manier waarop ons boer. Trots in die liefde waarmee ons ons diere grootmaak. Trots in die sorg waarmee elke bestelling voorberei en afgelewer word.

Kwaliteit is nie iets wat toevallig gebeur nie. Dit is die resultaat van harde werk, toewyding en die daaglikse besluit om dinge reg te doen – selfs wanneer niemand kyk nie.

Dit is hierdie waardes wat uiteindelik sigbaar word in elke produk wat ons lewer en in die vertroue wat ons kliënte in ons plaas.

 

​"Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon ... en wees dankbaar. En wat julle ook al in woord of daad doen, doen dit alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank."
Kolossense 3:16–17​

bottom of page